|
Die keuse van 'n skool is 'n integrale deel van die geleenthede wat elke ouer sy kind wil gee. Daar is noodwendig 'n vraag na gehalte-onderrig wat op 'n gebalanseerde wyse die student toerus om sy/haar potensiaal te verwesenlik. Ons glo dat die "Blou Masjien" aan hierdie vereiste voldoen. Hoërskool Randburg is die skool waar ELKEEN 'n STER is en elke dag verlig hierdie genade ons lewenspad. Elke aand gee dié sterre rigting in die ontelbaarheid van hul talente so reg uit ons Skepperhand. Die skool se tradisies en geskiedenis staan bo verdenking met uitstaande prestasies deur leerders en oudleerders. Op die sportveld, verhoog en in die klaskamer lewer die skool jaarliks kwaliteitkandidate, wat sprekend is van die werk wat hier gedoen word. By die skool is daar 'n wye verskeidenheid van aktiwiteite wat aan elke leerder die geleentheid gee om sy belangstelling en talente uit te bou. Hierdie aktiwiteite word onderskraag deur 'n hoë standaard van onderrig wat 'n intellektuele verruiming stimuleer wat ons kandidate op tersiêre vlak onderskei van ander. Daar word gefokus op persoonsvorming wat leerders toerus om met onderskeiding die regte lewenskeuses te maak. 'n Hoë premie word geplaas op die waardegerigte norme wat Christenskap ons bied, om so die leerders se kwaliteite te koester en hulle met deernis tot sinvolle bydraers in ons gemeenskap te help ontwikkel. Hoërskool Randburg is die "Blou Masjien" wat aan die Noorde van Johannesburg 'n bakermat vir Afrikaanse onderrig is. Hierdie masjien pols dinamies met die krag van sy talent. Vasgeanker in geloof is die ratte stewig in harmonie. Hierdie Blou Masjien wat hoog bo die wolke uittroon, is vir vele oudleerders steeds die hartslag van hulle dink en doen. Randburg is 'n leefwyse wat vorm, n paradigma wat rigting gee en 'n Alma Mater wat end-uit belangrik bly.
|




