2011 ATKV Applous-wenners
Hoërskool Randburg het oor baie jare ʼn sterk koorkultuur ontwikkel, met verskeie koorleiers wat op hierdie vlak ʼn groot bydrae gelewer het. In 2006 het die koor egter ʼn nuwe tydvak betree met die aanstelling van Richter Grimbeek as nuwe dirigent van die koor. Richter is ʼn professionele koor-dirigent en word allerweë beskou as een van die beste dirigente in die land. Hy is in 2007, tydens ʼn internasionale koorkompetisie in Praag, uit sowat 80 dirigente aangewys as die beste koordirigent.
.jpg)
Onder sy bekwame leiding het die koor in die afgelope vyf jaar gegroei en ontwikkel tot ʼn koor wat uitmuntend musiek maak en op verskeie vlakke presteer. Hierdie koor bied deur die loop van ʼn jaar verskeie konserte aan en tree gereeld voor vol sale op, waar hulle met hulle aansteeklike energie en musikaliteit mense inspireer en motiveer. Die koor word begelei deur Trudie van Wyk.
Doel van die Koor
Hoërskool Randburg Koor wil deur goeie sang en musiek:
- ʼn liefde vir koormusiek by koorlede en ander bevorder,
- eerlik musiek maak en daarmee ander inspireer,
- ʼn geleentheid en ruimte skep waar kinders, ongeag van ras of geslag, op ʼn genotvolle wyse hulle talente kan uitleef en ontwikkel,
- bydra tot die groei en karakterontwikkeling van elke koorlid,
- ambassadeurs vir die skool wees,
- die koorlede en ander mense musikaal opvoed en
- verseker dat koorlede die ervaring sal hê dat “elkeen ʼn ster is” (soos in die skool se visie gestel).
Ons waardes
- Ons wil die gawes van sang en musiek, wat ons glo die Here in sy genade vir ons gegee het, tot sy eer gebruik.
- Ons wil in die koor doelbewus die ruimte skep waar Christelike waardes beoefen en vasgelê word en waar koorlede geïnspireer word om met groot vrymoedigheid hulleself uit te leef en hulle talente te ontwikkel.
- Ons wil in die koor die ruimte en gesindheid van onvoorwaardelike aanvaarding, liefde, respek en konsiderasie skep, sodat elke koorlid homself/haarself kan wees en gewaardeer kan voel.
- Ons wil in die koor ʼn kultuur skep van harde werk, goeie selfdissipline en “commitment”.
- Ons wil in die koor ʼn kultuur skep waar ons op ʼn praktiese wyse betrokke is en uitreik na minder- bevoorregtes in die gemeenskap.
- Ons wil in die koor ʼn kultuur skep waar ons die beste is wat ons kan wees, maar met die wete dat ons slegs teen onsself kompeteer.
Die 2011 koorjaar is verby ...
Tydens die afsluitingsgeleentheid is 'n paar spesiale toekennings aan 2011 se koorlede gemaak:
Beste vordering: Bas - Ruan Mentz, Sopraan - Kyla Visser, Alt - Anri Joubert en Tenoor - Cassie Crause.
Koorlede van die jaar: Alt - Lauren Robbertson, Tenoor: Maxine Puren, Sopraan - Anneke van Wyk en Bas - Deane Dubber.
Altus Booysen en Ruan Engelbrecht ontvang spesiale toekennings vir hulle bydra op "bass" en kitaar, sonder hulle sou Bohemian Rapsody beslis nie so 'n "crowd pleaser" gewees het nie.
Vir hulle behulpsaamheid en diensbaarheid ontvang Neil Rohrs, Ockie Viljoen en Julian Coetzee ook spesiale toekennings.
Die koorleiers vir 2012 is:
Addisionele lede: Pierre Steyn en Mari Labuschagne
Onderseun en - dogter: Riemer Joubert en Bronwen Kilian
Hoofseun en -dogter: Johan Langenhoven en Maxine Puren
CV van die Koor
Enkele van die koor se optredes en prestasies oor die afgelope vyf jaar:
- Die koor tree op by die amptelike opening van die Craven Week vir Hoërskole, met TV-dekking, in 2006.
- In 2007 tree hulle op in ʼn Paasprogram op SABC 2.
- Die koor het al konserte met die volgende professionele kunstenaars aangebied: Jannie du Toit en Christa Steyn, Antoinette Olivier, African Youth Ensemble, CH2, Coenie de Villiers, Johannesburg Symphony Orchestra, Annalise Wiid, Emo Adams, Flip a Coin, Mauritz Lotz en Jolette Odendaal.
- In 2007 is die koor genooi om ʼn lied saam met Jannie du Toit op sy nuwe CD, Diepverlange, op te neem. Dit het baie goeie resensies ontvang.
- In 2008 het die koor ook ’n lied, Katedraal, saam met Coenie de Villiers opgeneem op sy nuwe album, Weerlig oor die See. Die koor is ook deur Coenie de Villiers genooi om as sy gaskunstenaars op te tree by die vrystellingskonserte van sy nuwe album – voorwaar ʼn besondere eer. Hierdie CD het ’n SAMA toekenning ontvang.
- In 2009 het die koor twee liedere saam met Joe Niemand opgeneem wat vrygestel is by die Mighty Men Konferensie, wat deur sowat 200,000 mans bygewoon is.
- Die koor het ook al saam met verskeie ander kore en groepe opgetree, onder andere:
St Stithians Boys Choir; The Dukes; Lindenkoor; Gauteng Youth Choir; Oosrandse Jeugkoor; Kempiekoor; Standerton Hoërskoolkoor; Heidelberg Volkskool; Jeugland Seuns- en Meisiekoor; EG Jansen Seuns- en Meisiekoor; Hoërskool Florida; UJ Universiteitskoor; Randburg Mannekoor; Kantate Kamerkoor; Rheinberger Kamerkoor; St John’s Jazz Band; Pretoria Boys High Dixie Band; Hoërskool Monument; Helpmekaar Kollege; Wits Universiteitskoor en verskeie laerskoolkore, om maar ʼn paar te noem.
- In 2008 het die koor se eerste CD, Sing-it!, die lig gesien. ʼn Tweede CD, Bridge Over Troubled Water, het in 2010 verskyn.
- In 2008 het die koor deurgedring na die finaal van ATKV-Applous, die enigste nasionale koorkompetisie vir skoolkore in die land. Die koor is aangewys as wenners in hulle kategorie.
- In 2009 en 2010 is die koor as demonstrasiekoor gebruik tydens koorwerkswinkels wat deur die ATKV vir koordirigente aangebied is.
- In 2009 en in 2010 het die Koor, saam met die African Youth Ensemble o.l.v. Kolwane Mantu, deelgeneem aan die Grahamstad Nasionale Kunstefees met ʼn program genaamd: South African Echoes. Die produksie is in albei jare aangewys as een van top 50-produksies op die fees en het uitstekende resensies ontvang. Die koor se deelname, saam met die African Youth Ensemble, het brûe gebou en getoon hoe die kunste as ʼn voertuig vir transkulturele samewerking en erkenning gebruik kan word. Sommige oorsese besoekers het dit dan ook uitgesonder as hulle beste ervaring op die fees.
- Die koor is genooi om, in aanloop tot die Fifa Wêreldbeker, op SABC2 se program Morning Live op te tree.
- In 2010 het die koor, op uitnodiging, deelgeneem aan die Ihlombe South African Choral Festival en saam met verskeie internasionale kore opgetree.
Uitreik na die Gemeenskap
Een van die waardes van die koor is om daadwerklik by die gemeenskap betrokke te wees en op praktiese maniere ʼn bydrae te lewer en ’n verskil te maak.
- In 2007/8 was die koor betrokke by ʼn deurgangshuis vir werklose gesinne in Newlands, waar ons klere, komberse en kos voorsien het en by hulle opgetree het.
- In 2009 was die koor betrokke by die Vrouegevangenis in Kroonstad, met ʼn optrede daar en die skenk van toiletbenodigdhede vir die gevangenes vir ʼn jaar.
- Sedert 2010 is die koor betrokke by MES (Mould • Empower • Sevice) wat in Hillbrow en die Middestad werk met die doel om die hart van die stad te verander. Ons koor borg reeds een kleuter vir die kleuterskool vir ’n jaar en sal in die komende jaar, op ’n baie praktiese vlak, by verskeie ander projekte betrokke raak.
Interessante inligting en nuusbrokkies
- Randburg is die grootste hoërskoolkoor in die land. Daar is op die oomblik 116 koorlede – 78 dogters en 38 seuns.
- 'n Koorjaar duur van Oktober tot Augustus. Oudisies word gedurende September van elke jaar gehou.
- Ons koor oefen elke Dinsdagaand van 17:30 tot 21:30 in die ouditorium
- Die koor het gedurende die eerste naweek van Desember 2010 ’n baie lekker en suksesvolle oefenkamp by Stoney Ridge gehou.
- Ses van ons koorlede sing ook in die Oosrandse Jeugkoor, naamlik: Anneke van Wyk; Deane Dubber; Kayla Roelofsz; Maxine Puren; Melanie Robertson en Ockie Viljoen.
- Sewe van ons koorlede dien vanjaar ook op die Studenteforum en sewentien op die VSR.
- Ons Koorleiers in 2011 is Marli Steyl en Deane Dubber (Hoofleiers), Jean J van Rensburg en Naret Loots (Onderhoofleiers), Ruan Mentz en Bianca Bester (Addisionele lede)
- Die koor bied op Vrydag, 18 Maart ’n gholfdag aan by Leeuwkop Gholfbaan. .
- Ons koor is genooi om saam met Coenie de Villiers op te tree by MES se Verjaardag Gala Konsert op Vrydag, 3 Junie. Voorwaar ’n besonder eer.
- Die koor neem weer vanjaar deel aan die ATKV Applous Nasionale Koorkompetisie vir skoolkore.
Kontak ons
Koorbestuurder
Norman Burger
083 444 7818
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
Koorvoog
Elsa du Toit
083 271 7234
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
Dirigent
Richter Grimbeek
083 556 7784
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien




