Akkommodasies en Konsessies

Akkommodasies en Konsessies tydens Assessering

Wat is akkommodasies en konsessies?

Akkommodasies en konsessies verwys na aanpassings wat tydens toetse en eksamens aangebring kan word om leerders met spesiale behoeftes of leeruitdagings akademies te ondersteun. Hierdie aanpassings is daarop gemik om die leerder se vermoë meer akkuraat te weerspieël, sonder om die akademiese standaarde te verlaag.

Wie kom in aanmerking?

Aansoeke vir akkommodasies/konsessies kan oorweeg word vir:

Leerders met ’n fisiese of mediese toestand wat normale assessering bemoeilik.
Leerders met ’n gediagnoseerde leerhindernis wat hul prestasie negatief beïnvloed in vergelyking met hul getoetste vermoë.
Let wel: Enige leerhindernisse moet so vroeg moontlik by die skool aangemeld word.

Goedkeuringsproses

Slegs die Departement van Inklusiewe Onderwys is bevoeg om akkommodasies en konsessies goed te keur.
Die skool self mag nie goedkeuring verleen nie.
Die proses begin slegs nadat alle moontlike hulpmaatreëls (bv. remediërende onderrig, terapie, akademiese ondersteuning of medikasie) toegepas is sonder die gewenste resultaat.
Die Skoolgebaseerde Ondersteuningspan (SBST) sal die aansoek en die nodige dokumentasie oorweeg. Op grond hiervan kan hulle verdere ingrepe aanbeveel, of die aansoek aan die Distrikgebaseerde Ondersteuningspan (DBST) verwys vir finale besluitneming.

Let asseblief daarop:

'n Professionele verslag van ’n spesialis dien slegs as een bron van inligting en waarborg nie ’n aanbeveling of goedkeuring nie.
Geen akkommodasie/konsessie sal toegepas word sonder skriftelike bevestiging van die Departement nie.
Behalwe in gevalle van onvoorsiene fisiese trauma, mag geen konsessies voor amptelike goedkeuring toegepas word nie.
 

Belangrike oorwegings vir aanbeveling

Wanneer die skool ’n aanbeveling oorweeg, word daar onder meer gekyk na:

Of die leerder reeds alle relevante ondersteuning ontvang het (bv. ekstra klasse, leeshulp, terapie of medikasie – met skriftelike bewys).
Of die leerder se houding, werksetiek en skoolbywoning voldoende is vir akademiese vordering.
Of die leerder se huidige prestasie reeds ooreenstem met hul getoetste vermoë (in so ’n geval is konsessies nie nodig nie).
Geen nuwe aansoeke sal gedurende Graad 12 oorweeg word nie, behalwe in uitsonderlike gevalle soos fisiese beserings.


Enige navrae?

Indien u verdere inligting benodig of onseker is oor enige aspekte van die proses, is u welkom om ons SAU te kontak by:

[email protected]
[email protected]