A Cappella
A Cappella: Sterrenade
Dié kompetisie is alreeds vanaf 2015 aan die gang en alhoewel dit weens COVID ‘n onderbreking ervaar het, is dit weer goed op dreef en baie populêr.
Om vir dié jaarlikse nasionale kompetisie voor te berei, is soortgelyk daaraan om ‘n produksie op die planke te bring: met kostuums, rekwisiete en beligting! ‘n Groep van twintig diverse leerders, met propvol skedules, wy hulself toe om weekliks vir ure voor te berei. Hulle moet soos een man beweeg, maar soos hul ses stemgroepe in perfekte balans sing. Dit is ‘n absolute kuns en ons is opgewonde om selfs by die afrigters baie groei in dié verband te sien.
Dit is egter nie net harde werk nie. Dit voeg ongelooflik baie waarde tot die leerders se lewens toe. Van ons vorige A Cappella-leerders getuig gereeld wat dié aktiwiteit vir hul beteken het:
- Dat om op ‘n gereelde basis so nou saam met ander mense te moet werk, jou leer hoe belangrik menseverhoudinge is
- Dat jy (vir die doel van die vertoning) gerus uit jou gemaksone kan klim en jou alles gee op die verhoog en in die werksplek leer dit jou om buite die boks te dink
- Dat jy eintlik flink kan dink, want jy kan terselfdertyd sing, dans en toneelspeel. Selfs diegene wat nie kon nie, kon dit beslis teen die tyd wat hul deelgeneem het doen, so dit laat jou baie goed voel oor jouself
- Dat A Cappella hul liefde vir musiek vasgelê het en dat hul dit selfs nou as volwassenes op verskillende maniere beoefen
- Dat jy ‘n kunstenaar is wat in eie reg kuns kan skep
- Dat jy vriendskappe vorm wat soms hegter is as met familie, want jy leef en werk saam met mense wat dieselfde as jy oor musiek voel
Om deel te wees van A Cappella vertel boekdele oor jou as skolier, veral eendag op jou CV vir Universiteit en vir koshuisaansoeke. Dit wys jy kan met mense werk, jy is toegewyd, gebalanseerd, musikaal en koshuise raap dié leerders op.
A-team, ons is trots op hoe julle tot dusver in dié kompetisie gevorder het. Hier is van ons spogtoekennings waarmee ons al weggestap het:
Mees oorspronklike tema (2016)
Beste vertolking van FAK-lied (2016)
Naaswenners (2016)
Derde plek (2017, 2019, 2022, 2024)
Choreografie-wenners (2019, 2024)