Fotografie

Randjie Fotografieklub

Fotografie is een van die aktiwiteite waar elkeen letterlik ‘n ster kan wees. Die klub bestaan al jare en ons werk elke jaar met entoesiasme om daardie een uit ‘n miljoen wenfoto te kry.

Die Struktuur

Die Fotografieklub is ‘n volwaardige klub wat geaffilieer is by die Suid-Afrikaanse Fotografiese Vereniging wat die APSSA toekennings van al die Fotografieklubs in Suid-Afrika koördineer en klubs op hoogte hou van Nasionale en Internasionale Fotografie Salonne. Alle lede in Suid-Afrika wat amptelik ‘n lid is van ‘n geaffilieerde klub, word ook deur hulle geadministreer en elke
fotograaf se prestasie word gemonitor, gegradeer en gedokumenteer. Hierdie lidmaatskap is noodsaaklik vir elke
individuele fotograaf, waar hulle dan kan werk vir erkenning van APSSA en FPSSA. So 'n toekenning sal in ag geneem word vir die toekenning van erekleure by Hoërskool Randburg.

Deelname

Aangesien ons klub geaffilieer is, word elke fotograaf by ons klub GRATIS geregistreer by die SAFV, mits die fotograaf aktief aan klubaktiwiteite deelneem. Hiermee kan jy as jong fotograaf al werk aan ‘n portefeulje vir diegene wat dalk eendag ‘n professionele fotograaf wil word. Met gereelde deelname stuur ons klub jou prestasies aan na die SAFV.

Byeenkomste

Daar word elke maand ‘n klubbyeenkoms gehou. Aan die begin van die jaar by ons eerste byeenkoms word die temas vir die jaar gekies. Ons beoog om elke kwartaal ‘n uitstappie te reël. Al die lede word aangemoedig om foto's te neem tydens sportbyeenkomste sowel as om aan alle aktiwiteite deel te neem, veral vir erkenning. By elke byeenkoms word jou foto’s beoordeel. Die paneel van beoordelaars bestaan uit ‘n klublid, die  kluborganiseerder/-afrigter en ‘n buite-klublid.
Jy as jong fotograaf begin as ‘n EEN STER-fotograaf en werk jou dan op na ‘n VYF STER-fotograaf. Jy moet gereeld deelneem en register word gehou. Foto’s word digitaal ingehandig.

Toerusting

Jy kan met enige kamera foto’s neem. Jou selfoonkamera is absoluut ideaal. Ons sal vir jou ‘n Fotograaf-identiteitskaart uitreik. Ons beplan om ‘n unieke Fotograaf T-Hemp te ontwerp wat jy moet dra as ‘n verteenwoordigende fotograaf van Hoërskool Randburg.

Kom geniet jou stokperdjie, sluit nou aan!

Hier kan jy letterlik ‘n “STER” wees!