Kriewelfees

K ultuur by Hoërskool R andburg is I nteressant, E ksie-perfeksie, W aardevol, E lektries-energiek en L ewendig!


Dit is waarvoor die KRIEWEL in Kriewelfees staan toe dit in 2006 dié naam gekry het. Voorheen was daar net ‘n jaarlikse Talentaand, maar daardie jaar het hierdie fees en ons Talentaand hulle name gekry en van toe af vind Kriewelfees elke jaar in die derde kwartaal plaas.

Dit is 'n fees waarin elke Randjie kunstenaar, van visuele kuns tot uitvoerende kunste, 'n geleentheid gegun word om hulle talente ten toon te stel.  Almal kry die geleentheid om 'n ster te wees of om hulle mede-Randjies se sterre te sien skitter.

Gedurende die week is daar tydens pouses kultuuraktiwiteite wat deur die SF gereël word en daagliks verskillende temas wat leerders met hulle skoolklere kan inkorporeer. 

Die week skop gewoonlik af met ‘n Praise and Worship-aand waarna leerders malvalekkers om die vuur kan geniet. Verder kry die matriekvakleerders kans om hulle harde werk ten toon te stel met stukke uit drama, dans en musiekklasse. Die week bied ook geleentheid vir meer ernstige kuns tydens die Poësie, Portrette en Pragtige Musiek-aand waar Randjies van graad 8 tot 11 hulle kunsbelangstelling kom deel. Deur die loop van die week is daar ook verskeie uitstallings van ons Kuns- en Ontwerpleerders se prestasies. 
Die week sluit af met die bekende Steraand wat ‘n talentviering is, gewoonlik met ‘n opwindende tema. 
2023 was die debuut van ons Alumni-aand met gaskunstenaar Joshua na die Reën. Dié aand het van ons oud-Randjies die geleentheid gebied om weer eens hulle liefde vir kultuur by Randburg te kom uitleef. Die geleentheid het ‘n Barnyard-gevoel nageboots met verskillende kosstalletjies en ‘n wyntuin area. Ons het oud-Randjies van 1994 tot 2021 genooi om deel te wees van hierdie spoggeleentheid. 

Die week is nie net 'n geleentheid vir leerders om te speel nie, maar bied ook vir ons graad 11 Drama-leerders die kans om te leer hoe om so ‘n fees te dryf. Hulle leer oor kaartjieverkope en adminstratiewe take asook agter-die-skerms werk soos verhoogbestuur en lokaalbeplanning wat alles deel vorm van hulle Praktiese Assesseringstaak.

Uit en uit is hierdie week een waarin Randburg KRIEWEL met talent!