Kuns

KUNS 

Die Kunsdepartement bied beide Ontwerp en Visuele Kunste aan. Tussen die twee vakke word 'n wye veld van skeppende praktyk wat die hand, die oog, die verbeelding en die intellek insluit, gedek. Leerders ontvang die geleentheid om kwessies, opinies en hul idees van skoonheid te konseptualiseer en te verwesenlik in twee- en driedimensionele kunswerke, voorwerpe en omgewings. Leerders gebruik hand en verstand om te skep. Visuele Kunste bied leerders 'n geleentheid om hul intellek te stimuleer en dit is ook 'n manier om hulself op 'n sinvolle, kreatiewe wyse uit te druk. Deur kreatiewe probleemoplossing word innoverende denkers geskep. Buiten buitemuurse geleenthede bied ons jaarliks twee geleenthede vir ons leerders om hul werke te toon te stel. Die Kriewelfees bied al die kunste en grade 'n kans om hul beste voet voor te sit met uitstallings en opvoerings. Die tweede uitstalling hou verband met die kunste se praktiese jaarpunt. 

Die leerders kry 'n kans om as kurator van hul jaar se werk op te tree en hul persoonlike uitstalling te behartig. Leerders onderneem uitstappies na kunsgallerye wat hulle in voeling met die ontwerp- en kunswêreld bring. Opwindende beeldhouprojekte word aangepak waarvan sommige in die skooltuin te sien is; ook die LO-Saal en Mediasentrum word met leerderkuns versier.

ONTWERP 
Ontwerp is die besigheidsgerigte weergawe van die visuele kunste. Waar kunsleerders kunswerke skep, skep ontwerpleerders produkte. Die vak het 'n praktiese en teoretiese komponent. In teorie word hedendaagse ontwerp, sowel as die geskiedenis van ontwerp behandel om 'n volronde agtergrond vir die jong ontwerper te gee. Kreatiewe denke en probleemoplossing word aangemoedig. Die praktiese komponent dien as inleiding tot alle kategorieë van ontwerp en rus leerders toe om suksesvolle ontwerpe, in hulle keuse van ontwerpkategorie, te lewer. Die praktiese ontwerpprodukte kan onder enige van die onderstaande vier kategorieë van ontwerp val. Visuele kommunikasie-ontwerp: twee dimensionele ontwerpe soos plakkate, handelsmerke, advertensies, toeps, webblaaie, illustrasies, verpakking ens. Oppervlakontwerp: twee- en drie-dimensionele ontwerpe soos patrone, tekstiele, teëls, graffiti, muurpapier ens. Produkontwerp: drie-dimensionele ontwerpe soos selfone, meubels, motors, klere, juwele ens. Omgewingsontwerp: drie-dimensionele ontwerp wat 'n hele ruimte behels soos binnenshuise-versiering, binnenshuise-ontwerp, argitektuur, tuinuitleg, winkeluitleg ens.