Praat saam
Redenaars:
Redenaarskompetisies word verdeel in individuele voorbereide en onvoorbereide redenaars. Hoërskool Randburg neem elke jaar formeel aan die ATKV Redenaarskompetisie deel. Leerders word ook die kans gegun om individueel of in spanverband in te skryf vir ander kompetisies, soos: Oppie Tong Af, Eisteddfod, SALA Redenaarskompetisie, Interskole Redenaarsliga, Oppie Tong Af, Con Spirito. Ons leerders vaar oor die algemeen baie goed in die kompetisies en ons het gereeld redenaars wat deurdring na die landswye finaal van die ATKV Redenaarskompetisie.
Debat:
Hoërskool Randburg het in 2023 na elf jaar weer toegetree tot die verhoog deur deelname aan die jaarlikse ATKV Debatskompetisie. Daar is juniorspanne (gr 8 en 9) en seniorspanne (gr 10-12) wat deelneem. Leerders kry die geleentheid om saam met spanmaats ‘n onderwerp na te vors, te oordink en dan argumente en teenargumente te debatteer tydens die kompetisie waar hulle dan te staan kom teen opponerende spanne.
Speech Guild:
Die ‘High School Public Speaking Festival’ is ‘n nasionale instelling op die Suid-Afrikaanse kultuurkalender wat gewoonlik in die eerste kwartaal van elke jaar plaasvind.
‘Speech Guild’ behels 4 deelnemers wat vir 15 minute ‘n gegewe onderwerp moet bespreek. Die leerders moet self hulle toesprake skryf en dan word geleentheid by die skool geskep om, onder leiding van ons Engelse onderwysers, as ‘n span saam te oefen.
Ons skryf elke jaar twee spanne per graad in en ons leerders presteer oor die algemeen uitstekend.
Speech Guild verskaf leerders die geleentheid om (in Engels) hulle selfvertroue as sprekers te ontwikkel, sodat hulle vlot en gemaklik ‘n toespraak voor ‘n gehoor kan aanbied. Hierdie is uiteraard ‘n vaardigheid wat altyd tot jou voordeel sal strek.