Produksie & Tienertoneel

PRODUKSIE

“Gisteraand was ek bevoorreg om ’n skitterende produksie te kon beleef.... van teks tot musiekverwerking en sang tot choreografie tot kostuums tot regie tot komiese tydsberekening, tot verhoog- en beligtingsontwerp tot meelewing – julle het absolute  magic gemaak!"
“Alles was so professioneel. Ek was veral mal oor die regie en musiek.”
“Baie geluk. Dit was ver bo enige standaarde wat van ’n skoolprodusie verwag sou word.”


Dit is van die terugvoer wat Hoërskool Randburg gereeld na elk van sy tweejaarlikse produksies ontvang....en dít kom nie net van ouers en vriende van die skool af nie, maar selfs van mense uit die industrie.
Die produksie is werklik die skool se uitvoerproduk.
Die kreatiewe span bestaan uit uiters talentvolle en toegewyde onderwysers op die gebied van drama, sang, dans en ontwerp en die stel, rekwisiete, kostuums,
toneelspel, musiek en dans is altyd van hoogstaande gehalte en op professionele standaard.
Enigiemand in die skool (en ook voornemende Randjies in Graad 7) is welkom om ’n oudisie af te lê en die vele talentvolle leerders met diverse belangstellings val almal oor hulle voete om te kom. Inteendeel, die kreatiewe span sukkel om die rolverdeling te beperk! Wat Hoërskool Randburg veral uniek maak, is dat ons produksies beslis nie net vir die tradisionele kultuurtiere en danspoppe  is nie – dikwels moet ‘n repetisie laat begin omdat ons nog vir die hoofkarakters wag wat van die rugbyveld af op pad is.....


Hoewel die produksie ure se opoffering en oefening verg, beaam leerders uit een mond dat dit een van die ervarings is wat hulle tot op die ouetehuis se stoep met hulle sal saamdra – nie net oor al die energie en adrenalien wat hulle tydens die uiteindelike opvoerings op die verhoog beleef nie, maar ook oor al die hegte nuwe vriendskappe wat hulle sluit. Verder ontwikkel hulle ’n stel waardes wat ’n mens op min ander plekke sal leer: betroubaarheid, toewyding, passie, energie, fokus, dissipline, stiptelikheid...
Vir die afgelope paar jaar “spesialiseer” Hoërskool Randburg in nuutgeskrewe Afrikaanse pantomimes waaronder Ar-fur, Hurkules, Die Kat se Wat?! en Alles in Wonderland die mees onlangste was.

 

TIENERTONEEL

By Hoërskool Randburg is die doel van Tienertoneel nie noodwendig om ’n kompetisie te wen nie, maar eerder om lewenslange toneelliefhebbers en teatergangers te ontwikkel – daarom is daar ’n plek vir ELKEEN wat betrokke wil raak!


Die leerders wat Dramatiese Kunste as vak het, word aangemoedig om minstens een keer vanaf Graad 10-12 in ’n tienertoneelstuk te speel of by die tegniese aspekte betrokke te raak. 


Daar is egter ook besonder baie talentvolle leerders in die skool wat nie Dramatiese Kunste as ’n vak het nie, maar tog graag die ervaring wil smaak om in ’n toneelstuk te speel. Gelukkig is daar byna net soveel talentvolle onderwysers wat regie wil doen, sodat daar gewoonlik vir elke leerder ’n rol is. 

Ons senior leerders wat Drama neem, is dikwels al so gekonfyt dat hulle die regie van ’n toneelstuk kan / wil behartig. Hulle is gewoonlik die ideale kandidate om ’n toneelstuk met die juniors (Graad 8 en 9) aan te pak. Op dié manier word die juniors se talente van vroeg af geslyp en word hulle lus gemaak en voorberei om Dramatiese Kunste as ’n vak in die senior grade te neem.


Verder word leerders aangemoedig om leerderproduksies aan te pak, wat beteken dat hulle al die aspekte van die produksie self hanteer.
Leerders wat nie op die planke wil wees nie, word aangemoedig om by die tegniese aspekte soos stelontwerp, klank, beligting, kostuumontwerp en grimering betrokke te raak en hulle kry net soveel erkenning as die toneelspelers.
Dit is dus nie snaaks dat byna 10% van die skool se leerders tweejaarliks aan die tienertoneel deelneem nie. Weer eens is dit opmerklik dat die manne net so betrokke is as die dames!


By Hoërskool Randburg word Annette Bening se woorde waar: Acting isn’t about being famous, it’s about exploring the human soul.