RNA

Die Randburg Nuus Agentskap, oftewel RNA, is Hoërskool Randburg se eie televisie-nuuskanaal.  Die RNA is in 2020 geloods om nuus oor die skool, die leerders en onderwysers op 'n unieke wyse tydens die COVID-19 pandemie, waartydens saalbyeenkomste nie toegelaat is nie, oor te dra.  Die kanaal funksioneer as 'n visuele medium om leerders oor leerderprestasies, leerderaangeleenthede en skoolaangeleenthede in te lig en dan natuurlik ook om die pret en plesier van die skool te wys.

Elke episode bevat een of meer onderhoude met bekende gesigte, mense in ons gemeenskap wat 'n spesiale bydrae tot die bedryfswêreld lewer, óf leerders wat unieke prestasies behaal het. Daarna is dit tyd vir die Sport-, Kultuur- en Aktuele Sake-minute waarin die week se gebeurtenisse vervat word. Die res van die 20-minute episode word gevul met segmente wat deur die kinders, vir die kinders, geskryf en opgeneem word, met elke redaksielid wat aan die hoof van sy of haar segment se redaksie, regie en vertolking staan.

Die nuusredaksie bestaan uit leerders vanuit verskillende grade wat nuus uitsnuffel, stories daaroor skryf, foto's en video's versamel en dit dan in 'n visuele storieformaat vir die skool uitsaai.

Ons aanbieders vorm ‘n kern deel van die RNA-span en bestaan ook uit leerders vanuit verskillende grade. 

Hoërskool Randburg het hul eie toegeruste ateljee vanwaar RNA elke Vrydag na die klasse uitgesaai word. RNA bied die geleentheid aan leerders om te leer hoe nuus werk, hoe opnames werk en hoe om 'n gestruktureerde program aanmekaar te sit.  Leerders leer tegniese vaardighede, skryfvaardighede, beplanningsvaardighede en videovaardighede aan.

Die RNA is 'n platform uniek aan Hoërskool Randburg en 'n wonderlike leerskool vir leerders wat in die mediawêreld belangstel.