Belangrike dae in 'n Randjie se lewe
Geesvang voor Interhoër
Die Interhoër is beslis 'n hoogtepunt op die jaarlikse kalender en die Randjies is altyd gereed om tussen al die ander skole uit te staan. Om te verseker dat ons Randjiesterre op hul helderste skitter, begin ons sommer 'n paar weke voor die Interhoër reeds ons gees opwarm... lekker sing en saamspeel tel beslis soms ook as werk en op hierdie manier kan ons verseker dat ons atlete, sowel as ons toeskouers gereed is wanneer die skoot klap!
Pienkdag
En al wat jy sien is die PIENK Masjien! Pienkdag vind jaarliks op 'n geheime datum plaas wanneer die meisies, opgedollie met pienk, die manne verras. Met lekker musiek, dansies en skreeusnaakse toneelstukke, skep dit geleentheid vir die meisies om 'n bietjie girl power regoor die skool te strooi - en 'n bietjie met die seuns te spot!
Rooidag
O, my liewe Randjieman, jy is my held! Rooidag is voorwaar 'n spesiale tradisie waarmee ons Randjiemanne vir die meisies wys hoe baie hulle die meisies waardeer. Elke Randjiemeisie ontvang 'n roos en die versekering dat sy vir ons manne werklik spesiaal is.
Derby
Die kompeterende gees loop altyd hoog wanneer ons saam met die groen skool kuier... Tydens die derby neem ons aan 'n verskeidenheid aktiwiteite teen Linden deel en die atmosfeer is veral elektries wanneer ons rugbyhelde op die veld draf. Die Randjies stel nooit teleur nie en is altyd 'n pragtige voorbeeld wat wys dat 'n Randjie nooit gaan lê nie.
Valentynsbal
Die Valentynsbal is 'n pragtige aand van sprankel en pret en niemand kan so stylvol soos die Randjies lyk nie! Die meisies is in hul mooi-moois uitgevat, die manne kam hul hare en ons dans die aand om!
Klokseremonie
Die klokseremonie is 'n tradisie wat 'n Randjie se teenwoordigheid by die skool simboliseer. As graad aggie word die klok namens jou gelui, jy stap deur 'n erewag by die skool in en jy ontvang 'n klein Bybeltjie. Wanneer jy aan die einde van matriek kom, stap jy deur 'n erewag by die skool uit en lui jy self die klok. Dit is 'n spesiale oomblik van verwelkoming en vaarwel, wat Randjies altyd in hul harte kan koester.