Bergfietsry

Bergfietsry het tot ‘n erkende skoolsport by Hoërskool Randburg gegroei. Die skool gee ten volle erkenning aan leerders vir hulle prestasies.  As skool neem ons aan die Cycle-Lab Hoërskoolreeks deel. Die byeenkoms bestaan uit vyf cross country-formaat wedrenne wat by verskillende plekke in Gauteng plaasvind. Daar is ook ‘n nasionale finaal wedren waar verskillende provinsies se skole teen mekaar kompeteer.  Buiten die Cycle-Lab reeks oefen
die span op 'n gereelde basis saam. Ons span van bekwame ouers en afrigters help die ryers om hul fietsryvaardighede en tegniese aspekte van fietsry te verfyn.
 
Fietsry by Hoërskool Randburg bied aan die ryers die geleentheid om hulle sport te beoefen en hulle kennis van bergfietsry te verbreed.  Die minimum toerusting waaroor elke deelnemer moet beskik, is 'n bergfiets, 'n valhelm en 'n waterbottel en dan ook hope energie.  Aan die einde van die reeks word daar in elke ouderdomsgroep ‘n voorafbepaalde hoeveelheid leerders tot die Gauteng span verkies.  Dit word gebaseer op punte wat deur die
reeks behaal is.  Hierdie leerders neem dan oor 'n naweek in die Oktober-vakansie aan die interprovinsiale byeenkoms deel.  Die top vyf skole neem ook, per uitnodiging, aan dié byeenkoms deel.
 
Ons fietsryspan en hul ouers se groot toewyding en entoesiasme het die Randjies in staat gestel om die opwindende sport namens die skool te beoefen.  #Randjietrots!  
 
Kontak gerus vir mev. Christa Snyman by die skool vir meer inligting.
 
Suksesstories:

Jean Spies is ‘n oud-Randjie-leerling wat Suid-Afrika in 2021 en 2024 in baanfietsry by die Olimpiese Spele verteenwoordig het.
Daar was ook al verskeie leerders wat uitgenooi is om in verskeie dissiplines in spanne oorsee deel te neem. 
Daar is elke jaar leerders wat provinsiale kleure in verskillende dissiplines (XCO, XCC, baanfiets, padfiets) verwerf.
Die volgende leerders het in 2022-2024 die Gauteng skolespan gehaal: Gustav Roller, Jayden Naude, Evan Naude en Erik Breedt.
Verskeie leerders was al ouderdomswenners by die Cycle-Lab reeks: Gustav Roller (2022), Evan Naude (2024), Jayden Naude (2024).
Voordat dit die Cycle-Lab skolereeks was, was dit die Spur-reeks. Sumien Botha, ‘n oud-Randjie, is ‘n Spur-reeks legende. In 2018 en 2019 was sy die voorloperdogter in haar ouderdomsgroepe.