Krieket
Hoërskool Randburg speel jaarliks in twee krieketseisoene (Januarie tot Februarie en Augustus tot November). Dit beteken dat die spanne ten minste 25 wedstryde per jaar speel.
Die seisoene verloop soos volg:
In die eerste en vierde kwartaal speel ons teen die tradisionele Engelse skole. In die derde kwartaal is dit die beurt van die top Afrikaanse skole, onder andere Affies en Noordheuwel. Die bogenoemde wedstryde word oor ‘n volle dag gespeel, met ander woorde 50 beurte of weeksdae wanneer T20-wedstryde gespeel word. In die vierde kwartaal speel ons spanne ook in die Johnny Waite-reeks (T20).
Hoërskool Randburg spog met ‘n fantastiese binnenshuise fasiliteit van internasionale standaard. Die fasiliteit beskik oor ses nette waarvan twee vir ons boulmasjiene gebruik word. Dit word dwarsdeur die jaar vir afseisoenoefening benut. Ons beskik ook oor tien turfnette en drie turfblaaie.
Tot dusver het ons een Protea-speler, Zander de Bruyn, opgelewer. Verder het ons elke jaar talle spelers wat na die provinsiale proewe deurdring en provinsiale kleure verwerf. 2024 is dus nie ‘n uitsondering nie, met Liam Peek wat provinsiale kleure
verwerf vir sy insluiting in die Gauteng junior krieketspan.
Tydens die 2024/2025-seisoen spog Randjies met hul eerste volwaardige dogterskrieketspan afgerig deur Annie de Wit en Sunette Viljoen-Louw, voormalige Olimpiese atleet en Protea krieketspeler. Onder hulle leiding wen hierdie dogters agt
van hul nege wedstryde en word hulle gekroon as ligawenners vir 2024.
Verder lewer Randjies in 2025 die volgende CGL Lions provinsiale spelers op:
- Alyssa Edwards (Gauteng Lions Dogters o. 16)
- Leandri Smit (Gauteng Lions Dogters o. 15)
- Stefanie Viviers (Gauteng Lions Dogters o. 15)
- Aidan Hough (Gauteng Lions Seuns o. 15)
Hier by Hoërskool Randburg is ons bevoorreg dat ons afrigters elke kind soos ‘n ster hanteer en ons glo dat ons nie net goeie krieketspelers wil oplewer nie, maar ook goeie jongmense.
Kontakpersoon: Francois Fouché by [email protected]