Drama

The  real object of drama is the exhibition of the human character.
Thomas Babington Macaylay

Drama is nie net ‘n kunsvorm nie – dit is ook ‘n belangrike stuk gereedskap om selfvertroue te bou en lewensvaardighede aan te leer en jouself, die wêreld en ander mense beter te leer ken.

By Hoërskool Randburg besef ons die waarde van drama – nie net as vak nie, maar ook as buitemuurse aktiwiteit.

Benewens die feit dat goed-gekwalifiseerde, toegewyde onderwysers die leerders deur die twee jaar van Kuns en Kultuur en die drie jaar van Dramatiese Kunste begelei, is die drama só 'n prioriteit by die skool dat Hoërskool Randburg een van die min skole is wat kan spog met 'n volledig-toegeruste klein teater - die BlouSter-teater is nie  net 'n klaskamer nie, maar ook geskik vir professionele produksies.  

Die uitslae van die matrieks in Dramatiese Kunste is jaarliks buitengewoon goed - 'n bewys van die feit dat die leerders in die teorie sowel as prakties goed onderlê word.  Die hoogstaande gehalte van die praktiese werk word jaarliks lof toegeswaai by die matriekspogkonsert wat tydens die Kriewelfees aangebied word.  

Benewens die Kriewelfees, wat ook 'n Steraand insluit waar onder andere toneeltalent uitgestal word, is daar talle ander drama-aktiwiteite waaraan deelgeneem kan word.

Die tweejaarlikse produksie bied vele toneelspeelgeleenthede vir kinders van graad 8 tot 12.  Beide die nuutgeskrewe pantonimes, "Ar-fur" en "Hurk-ules", wat die afgelope jare aangebied is, is besonder hoog aangeskryf.  Baie van die hoofrolle is deur dramaleerders vertolk.

Leerders wat jaarliks via dramastudio's aan verskeie Eisteddfods en die NEA en die Sentraal-Gauteng-Kunswedstryd deelneem, behaal deurgaans uitstekende resultate.

Daar is ook 'n geleentheid om aan verskeie Tienertoneelkompetisie deel te neem.  Nie net word alle leerders aangemoedig om deel te neem nie, maar daar word ook aan talentvolle leerders die geleentheid gebied om self tekste te skryf en te help met die regie.  Ons moedig ook ons leerders aan om aan nasionale en internasionale kompetisies deel te neem.

Menige oud-Randjies het al hul skrede na die professionele teater gewend en opleiding by verskeie tersiêre inrigtings ontvang.  Baie van hulle was al te sien in sepies soos Binnelanders en 7de-laan en deesdae ook Diepe Waters.

Hoërskool Randburg is beslis dié tuiste vir 'n leerder met 'n talent, of selfs net 'n liefde, vir drama en toneelspel.