|
Waar jy die geleenthede gebied word om te kan speel.
Ons speel jaarliks met 10 tot 12 spanne gedurende die drie krieketseisoene wat daar gedurende die jaar is. Dit beteken dat die spanne ten minste 25 wedstryde per jaar speel. Die seisoene is as volg : In die eerste kwartaal speel ons teen die tradisionele Engelse skole. In die derde kwartaal is dit die beurt van die top Afrikaanse skole soos byvoorbeeld Centurion, Affies, Menlo Park, ens. Tydens die vierde kwartaal word daar weer teen Engelse skole soos St Davids, St Albans, KES, ens. gespeel. Die A-spanne speel hulle wedstryde oor 'n volle dag terwyl die B- en C-spanne halfdagwedstryde speel. Gedurende die eerste en vierde kwartaal speel die oopspanne ook in die John Waite Knock Out reeks, 'n kompetisie wat oor 35 beurte op Woensdae middae gespeel word. Al ons oop spanne neem aan die kompetisie deel. Ons neem nie aan die Beeldtrofee deel nie, aangesien ons dan nie met al ons spanne sal kan speel nie. Die krieketfasiliteite hier by Hoërskool Randburg is van die beste. Ons besit 10 turfnette, 2 turfblaaie, 10 sementnette, 3 boulmasjiene en nog vele meer. Tot op hede het ons slegs 1 Proteaspeler opgelewer nl. Zander de Bruyn, wat tans vir die Warriors speel. Verder het ons ook al talle provinsiale spelers opgelewer waarvan baie as kaptein van die span opgetree het. Op skoolvlak het ons ook gereeld leerders in die Gauteng spanne. Tans spog ons met spelers soos Rico du Plessis en Johann van der Merwe wat as SA-skolespelers van die jaar aangewys is. Rico du Plessis (onder 19A), Johann van der Merwe en Kobus Delport (onder 17) en Gawie Thale (onder 15B) is ons Gautengspelers. Vanjaar het ons vir die derde keer in die finaal van die John Waite A-afdeling gespeel. Tradisioneel is hierdie finaal gewoonlik tussen twee van die Engelse "Boy Schools" en Engelse Private Schools. Vir die eerste keer wen Hoërskool Randburg die A-afdeling. Voorwaar 'n groot prestasie vir 'n Afrikaanse skool om dié trofee te wen. 'n Tradisie waarop ons baie trots is, is die Old Boys wedstryde wat altyd op die laaste Saterdag in Augustus gespeel word. Tydens hierdie wedstryde speel die Eerstespan teen die "Old Boys Eerstespan" en twee Old Boys-spanne speel teen mekaar. Sodoende word die jongklomp blootgestel aan mense wat reeds hulle skoolopleiding te Randburg voltooi het en word waardevolle kontakte opgebou. John Waite Wenners 2009 Hoërskool Randburg het die John Waite finaal gewen! Dis ‘n besonderse prestasie, want ons is die eerste Afrikaanse skool en “co-ed” skool (sedert 1975) wat die beker wen. Die John Waite “knock-out”-reeks word oorheers deur tradisionele Engelse “boys schools”. (KES, St. John, St. Stithians) Ons het KES in die semifinaal gewen en St. Stithians in die finaal. Soos die Engelse sê, is dit ‘n “3rd time lucky” want dit is die derde agtereenvolgende jaar wat ons in dié finaal speel. Baie geluk, Seuns ons is baie trots op julle!
Co-Ed Skole Pro 20-wenners in 2010. Standard Bank Pro 20-Semi Finaal 2010. Rico du Plessis Gauteng onder 19 kaptein en onder 19 SA skole B-span kaptein in 2009. Rico du Plessis speel ook vir die SA Universiteitspan in 2010 en Gauteng onder 16- en onder 17-speler in 2010. Piet Otto Krieket Akadmie en Krieket-winterskool
|




