Geskiedenis

Die skool open op 17 Januarie 1966 met 163 leerlinge en staan bekend as die Ferndalese Hoërskool.  Vandag is daar bykans 700 ingeskrewe leerders. Hoërskool Randburg is een van die grootste Afrikaans-medium skole in die noordelike voorstede van Johannesburg. Dit is 'n gevestigde skool met 'n trotse rekord van prestasies deur sy skoliere en oudleerders. Hoërskool Randburg streef na akademiese uitnemendheid. Hoë standaarde is ononderhandelbaar.

'n Aantal onderwysers is in diens van die Beheerliggaam om akademiese standaarde te verseker en klasgroottes te beperk. Die skool is trots op die uitmuntende akademiese prestasies wat oor die jare deur sy matrieks gelewer is, ongeag watter eksamen geskryf is. Hoërskool Randburg glo in die skoolmodel met sy driehoek van akademie, sport en kultuur ten einde die geleentheid vir elke leerder te bied om gebalanseerd tot sy/haar volle potensiaal te kan ontwikkel.

Ons is bekend vir ons sportprestasies en verskeie van ons leerders presteer jaarliks op nasionale en provinsiale vlak. 'n Sportburo met toegewyde afrigters verseker dat die skool 'n wye verskeidenheid sportgeleenthede aan elke leerder bied. Die skool het 'n ryk kultuurlewe en deelname vind plaas oor 'n wye spektrum. Uitstaande prestasies word behaal in koor-, spraakgilde- en redenaarsdeelname. Ons koor is die grootste gemengde skoolkoor in die land, gewild en blink uit waar hulle ookal optree. Verhoogproduksies word geken deur die uitstaande kwaliteit van ons eie talent.