Esport

Hoërskool Randburg het in 2019 met esport begin en ons geniet dit om te sien hoe hierdie sport groei en besonder interessante sosiale groepe bymekaarbring - van die tradisione "IT nerds" tot die "Rugby jocks" saam in een span.  Nou moet ons nog net 'n paar meisies deel van 'n span maak!  Vir diegene wat sê "e-wat?", kom ons verduidelik ...

Esport staan vir "electronic sport" en word gebruik om enige kompeterende video-speletjie te beskryf.  Daar is wêreldwyd verskeie professionele esport-spelers, kommentators en bekendes.  Dit is vinnig besig om tradisionele sportsoorte, in terme van prysgeld en kyksyfers, verby te steek.  Daar word tans selfs onderhandel om dit by die Olimpiese Spele in te sluit.  Op skoolvlak kan leerders provinsiale en selfs nasionale kleure vir die sportsoort verwerf.

Mind Sport South Africa besluit op die spesifieke speletjies wat in die skool-liga gespeel word en ons hou baie streng by die betrokke ouderdomsbeperkings van elke speletjie.  Voorbeelde van populêre titels wat ons speel, sluit in selfoonspeletjies soos Clash Royale en HearthStone of rekenaarspeletjies soos League of Legends, Paladins, Dota 2 en CS:GO (16+).  Ons beplan om ook by die SHEL aan te sluit, waar leerders aan die Telkom Gaming League kan deelneem en ook Overwatch kan speel.

Die toerusting wat spelers vir die sport benodig is 'n selfoon of rekenaar om op te speel en goeie internettoegang sodat hulle tuis saam met hul spanmaats kan oefen.  Vir rekenaarspeletjies is 'n headset en gaming mousepad noodsaaklik.  Wanneer ons kompetisie speel, moet alle toerusting skool toe gebring word en in die rekenaarklas, waar ons internettoegang verskaf, opgekoppel word.

LW:  Daar is 'n klein fooitjie betaalbaar vir elke kompetisie, waarvoor leerders wil inskryf.