Die Kunsdepartement bied beide Ontwerp en Visuele Kunste aan. Tussen die twee vakke word 'n wye veld van skeppende praktyk wat die hand, die oog, die verbeelding en die intellek insluit, gedek. Leerders ontvang die geleentheid om kwessies, opinies en hul idees van skoonheid te konseptualiseer en te verwesenlik in twee-en driedimensionele kunswerke, voorwerpe en omgewings.
Visuele Kunste bied leerders 'n geleentheid om hul intellek te stimuleer en dit is ook 'n manier om op 'n sinvolle, kreatiewe wyse hulself uit te druk. Deur kreatiewe probleemoplossing word innoverende denkers geskep.
Hoërskool Randburg bied jaarliks 'n kunsuitstalling aan waar leerders se jaarwerk ten toon gestel word. Leerders onderneem uitstappies na kunsgallerye wat hulle in voeling met die ontwerp- en kunswêreld bring.
Opwindende beeldhouprojekte word aangepak waarvan sommige in die skooltuin te sien is; ook die LO-Saal en Mediasentrum word met leerderkuns versier.
ONTWERP
Ontwerp is die besigheidsgerigte weergawe van die visuele kunste. Waar kunsleerders kunswerke skep, skep ontwerpleerders produkte. Die vak het n praktiese en teoretiese komponent. In teorie word hedendaagse ontwerp, sowel as die geskiedenis van ontwerp behandel om 'n volronde agtergrond vir die jong ontwerper te gee. Kreatiewe denke en probleemoplossing word aangemoedig.
Die praktiese komponent dien as inleiding tot alle kategorieë van ontwerp en rus leerders toe om suksesvolle ontwerpe, in hulle keuse van ontwerpkategorie, te lewer. Die praktiese ontwerpprodukte kan onder enige van die onderstaande vier kategorieë van ontwerp val.
Visuele kommunikasie-ontwerp: twee dimensionele ontwerpe soos plakkate, handelsmerke, advertensies, toepe, webblaaie, illustrasies, verpakking, ens.
Oppervlakontwerp: twee- en drie-dimensionele ontwerpe soos patrone, tekstiele, teels, grafitti, muurpapier, ens.
Produkontwerp: drie-dimensionele onwerpe soos selfone, meubels, motors, klere, juwele, ens.
Omgewingsontwerp: drie-dimensionele ontwerp wat 'n hele ruimte behels soos binenshuise-versiering, binneshuise-ontwerp, argitektuur, tuinuitleg, winkeluitleg, ens.
https://www.hsrandburg.co.za/kultuur/kuns#sigFreeIda2c0dde079